Top

 

 

 Pages 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12

 
 

 

 

Dramakursus lok mense van oraloor na Potch

Op sekere Saterdae, sou mense wie by die Fishmonger in Cachet Park in Potchefstroom geëet het, dalk gewonder het, wat bo in die Kleinteater aan die gang was.

Altesaam 40 dramasiele het vir vyf Saterdae, vanaf 13 Augustus tot 15 Oktober, in swart klere by die trappe op en af beweeg.

En as jy mooi gekyk het, sou jy die misterieuse vrou agter die sonbril in die hoek van die restaurant oor etenstyd, as Brümilda van Rensburg erken het.

Die dramakursus wat deur dié aktrise jaarliks op Potchefstroom aangebied word, het pas `n afloop geneem. Dit het op 29 Oktober afgesluit met `n besoek aan die Egoli-stel.

Die kursus bied `n inleiding tot drama vir belangstellendes, van 16 jaar en ouer. Geen vorige ondervinding is nodig nie.

Dit het vanjaar deelnemers van tot sover as Durban, Bloemfontein en Schweizer-Reneke na Potchefstroom gelok.

“Dit was vir my 'n wonderlike ervaring en was absoluut die moeite werd,” het Pierre Fourie, een van die studente, gesê. “Jy sit nie heeldag in 'n klaskamer en kry 'n lesing oor wat om te doen nie, maar word die geleentheid gegun om dit “hands on”  te leer. Party dae het die senuwees maar erg te kere gegaan, maar as dit nie daarvoor was nie, sou ek nie soveel in so 'n kort tyd geleer het nie.”

Fourie is van Bloemfontein en het elke Saterdagoggend die drie-uur-lange rit aangedurf Potch toe.

Op die dag van die eksamen op 15 Oktober, was hy oppad terug, in `n ongeluk betrokke, toe `n bees voor sy motor ingeloop het.

Hy was nie die enigste dramastudent wat opofferings moes maak om dié gesogte kursus by te woon nie. Alvira Bezuidenhout, voorheen `n advokaat en regter, het dikwels van Durban af ingevlieg Johannesburg toe, en met `n huurmotor, Potchefstroom toe gery. Volgens haar, was dit die moeite werd, want dit is iets wat sy vir haarself gedoen het.

Van die gassprekers op die kursus, was die aktrise Heidi Molentze; die akteur, Ian Roberts, en Henry Mylne, regisseur van 7de Laan.  

Volgens Lynn van Schalkwyk, hoof van die Sentrum vir Kreatiwiteitsopleiding aan die Puk, was vanjaar se verloop weer suksesvol.

Die dramakursus word bemark onder die vleuel van die sentrum.

 “Die belangstelling wat getoon is in die kursus, was baie goed.  Daar was in 2004, 40 kursusgangers. Mense moes selfs weggewys word, aangesien dit reeds vroeg al, vol bespreek was. Dit was dieselfde geval hierdie jaar.

Soos die kursus verloop het, kon mens werklik 'n groei in die kursusgangers raaksien,”,  het me Van Schalkwyk gesê.
                                                                                                              Back to Top

'Distriksmunisipaliteite is oorbodig’

“Distriksmunisipaliteite is oorbodig en behoort afgeskaf te word, aangesien die funksies van distrikmunisipaliteite deur plaaslike stadsrade self gedoen kan word. Onnodige heffings en belasting word aan hierdie munisipaliteite betaal en dít terwyl die munisipale bestuurders van distriksmunisipaliteite salarisse verdien gelykstaande aan ministers en selfs meer as die president,” het mnr. Pieter Groenewald, provinsiale leier van die VF Plus in Noordwes, in `n persverklaring gesê.

“Distriksmunisipaliteite is oorblyfsels van die ou streeksdiensterade en heffings wat steeds aan hulle betaal word blyk ongrondwetlik te wees. Die minister van finansies het reeds verklaar alle heffings word gestaak vanaf 30 Junie 2006.

Die belastingbetaler moet egter steeds opdok, aangesien daar nou R24 miljard van sentrale regering toegeken gaan word aan distriksmunisipaliteite. Deur die afskaffing van hierdie munisipaliteite sal miljarde rande bespaar word net aan administratiewe kostes,” het Groenewald vervolg.

Volgens die verklaring sal die VF Plus in die parlement 'n beroep doen op die regering om nie net die heffings uit te faseer nie, maar ook distriksmunisipaliteite in geheel.

 
 

Back to Top